Daar's ‘n ding aan die uitbroei op Oudtshoorn - en dis nie sommer onder enige volstruis nie ...
Basjan, Alan Ladd en Stef Kruger, drie GROOT geeste in die Suid-Afrikaanse Musiekindustrie, snoer hul kragte saam in ‘n splinternuwe produksie wat hittegolwe van sy eie oplewer: DIE BOER, DIE COWBOY EN DIE DIGTER.
In die Karoo is die Gannabos bekend as ‘n kanniedood. Hy weerstaan enige aanslag en soos hy groei, word hy sterker. As die Gannabos staan waar hy hoort, waar hy aard en bedoel is om te wees, word sy wortels stewig en onherroepelik geanker. Vir die drie ikone is dit dieselfde ...Die konsep van DIE BOER, DIE COWBOY EN DIE DIGTER het sy ontstaan gehad toe die drie vriende een aand saam die wens uitgespreek het om ‘n eerlike, suiwer vertoning te kan lewer waaraan geen byklanke of foefies verbonde is nie. In een van daardie wonderlike helder oomblikke het hulle hardop gewonder hoekom hulle nie saam iets kan doen nie. Die saadjie het ontkiem ...
"Ons woon al drie in Oudsthoorn," verduidelik Basjan met sy lekker Weskus-aksent. "Ons het besluit om ‘n proeflopie te doen en dié is sommer binne ‘n japtrap uitverkoop."
Met kitaar, banjo, mondfluitjie, konsertina, hope persoonlikheid en onteenseglike talent sit die drie saam op die verhoog en lewer ‘n eerlike, akoestiese musikale vertoning wat met groot gesels en grappe tussendeur gepaard gaan.
"Daar's iets van ons elkeen in die vertoning, en dis wat dit lekker maak," meen hulle. "Dis informeel, en daar's ‘n intieme atmosfeer met die gehoor. Hulle word as't ware deel van die proses." Dis ook ‘n manier om hulle vinger op die pols te hou en agter te kom wat werk. En terwyl die gehoor so betrokke is by die baanbreker vertoning, is hulle telkemale baie onwillig om die drie musketiers te laat gaan - hulle kan eenvoudig nie genoeg kry nie!Die drie uiteenlopende genres waarvoor elkeen individueel bekendheid verwerf het, bied heerlike vermaak waarmee hulle ‘n wye mark se sweetspot in die kol tref. Die vertoning is by uitstek een van top kwaliteit aangesien die drie met dieselfde waardesisteem na die tafel, of dan verhoog, kom. Dis ook een van hulle doelwitte: om ‘n voorbeeld te stel en gesonde,skoon vermaak te bied wat by die hele gesin aanklank vind.
Oudtshoorn is bekend vir die Kangogrotte, die Swartberge, volstruisplase en die Rust en Vrede Waterval. Dis ‘n streek van uiterstes. Die magiese plek se nuutste uitvoerproduk verteenwoordig die vele fasette van die omgewing wat soos geheime juwele tussen die sandsteen geboue skuil en wag om ontdek te word. DIE BOER, DIE COWBOY EN DIE DIGTER gaan ‘n nuwe snaar aanraak.
Videos